Posts tonen met het label bybel. Alle posts tonen
Posts tonen met het label bybel. Alle posts tonen

woensdag 2 juli 2025

Psalm 150


Psalm 150

HALLELUJA! Loof God in sy heiligdom, loof Hom in sy sterk uitspansel!
Loof Hom oor sy magtige dade, loof Hom na die volheid van sy grootheid!
Loof Hom met basuingeklank, loof Hom met harp en siter;
loof Hom met tamboeryn en koordans, loof Hom met snarespel en fluit;
loof Hom met helder simbale, loof Hom met klinkende simbale!
Laat alles wat asem het, die HERE loof! Halleluja!




dinsdag 17 juni 2025

Psalm 105


Psalm 105 vers 1-11


Loof die HERE, roep sy Naam aan, maak onder die volke sy dade bekend.

Sing, psalmsing tot sy eer, spreek van al sy wonders.

Beroem julle in sy heilige Naam; laat die hart van die wat die HERE soek, bly wees.

Vra na die HERE en sy sterkte; soek sy aangesig altyddeur.

Dink aan sy wonders wat Hy gedoen het, aan sy wondertekens en die oordele van sy mond, o nageslag van Abraham, sy kneg, o kinders van Jakob, sy uitverkorenes!


Hy, die HERE, is onse God; oor die hele aarde is sy oordele.

Hy dink vir ewig aan sy verbond, aan die woord wat Hy ingestel het vir duisend geslagte- die verbond wat Hy met Abraham gesluit het, en sy eed aan Isak;
wat Hy ook vir Jakob as insetting bekragtig het, vir Israel as 'n ewige verbond,
met die woorde: Ek sal aan jou die land Kanaän gee, julle aangewese erfdeel.


dinsdag 3 juni 2025

Die uitnemendheid van die liefde - 1 Korintiërs 13

Die uitnemendheid van die liefde

Al sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek 'n klinkende metaal of 'n luidende simbaal geword.

En al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis, en al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit, en ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie.

En al sou ek al my goed uitdeel, en al sou ek my liggaam oorgee om verbrand te word, en ek het nie die liefde nie, dan sou dit my niks baat nie.

Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid.

Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.

Die liefde vergaan nimmermeer; maar profesieë -- hulle sal tot niet gaan; of tale -- hulle sal ophou; of kennis -- dit sal tot niet gaan.
Want ons ken ten dele en ons profeteer ten dele.

Maar as die volmaakte gekom het, dan sal wat ten dele is, tot niet gaan.

Toe ek 'n kind was, het ek gepraat soos 'n kind, gedink soos 'n kind, geredeneer soos 'n kind; maar nou dat ek 'n man is, het ek die dinge van 'n kind afgelê.
Want nou sien ons deur 'n spieël in 'n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.

En nou bly geloof, hoop, liefde -- hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.